Die Afrikaanse Persfonds, wat op 11 April 1935 gestig is, is deur Die Afrikaanse Pers Bpk (APB) in die lewe geroep en bestuur. Die APB het onder andere Vaderland, Brandwag en Rooi Rose asook skoolhandboeke gepubliseer en versprei.
Verskille by die Afrikaanse Pers het tot gevolg gehad dat ’n handvol direkteure weggebreek het en die Dagbreek Pers Beperk gestig het saam met ’n myngroep, Strathmore Exploration Limited, wat die drukgeriewe beskikbaar gestel het. In 1947 is Dagbreek Pers Bpk tot stand gebring met die oog daarop om ʼn Sondagkoerant uit te gee, wat na Desember 1947 as Dagbreek en Sondagnuus bekend gestaan het.
In 1953 het die aandeelhouers van Dagbreek Pers Bpk ’n trust, Die Dagbreek Trust, gestig. Die hoofdoel van hierdie trust sou wees om die stemregbeheer oor Dagbreek Pers te behou. Hoewel die bedrywighede van Die Dagbreek Trust op die noorde van die land gefokus het en dié van die Afrikaanse Persfonds op die suide, was die hoofdoelstellings van altwee trustfondse in beginsel dieselfde, naamlik die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.